Paul Riekert
Paul Riekert het op die tere ouderdom van vyf begin musiek speel en klanke opneem, en dit is nog steeds wat hy obsessief en op ‘n daaglikse basis doen.
Hy is direk na matriek weermag toe, 1987-88. Opleiding ontvang en leierskursus gedoen by Inligtingskool (toe nog in Kimberley), en daarna gestuur na Verre Noord vir “Kom-ops operasies”. (Wat meestal bestaan het uit lesings gee vir verveelde “kampers” wat gewens het hulle was by die huis.)
Na ‘n BA-graad by Wits en ‘n vinnige rampspoedige jaar as onderwyser, het hy besluit om sy passie (musiek) sy beroep te maak.
Paul is bes bekend as die brein van Battery9, die enigste oorwegend Afrikaanse eksponent van Industriële donderweermusiek, wat sewe albums en een SAMA-toekenning agter die blad het. Ander musiekprojekte sluit in Joos Tonteldoos & die Dwarstrekkers, Breinskade, General Dealer en Die Menere.
Behalwe vir sy eie kreatiewe werk, komponeer hy sedert 2003 musiek vir TV (dramas, logo’s, advertensies en kindermusiek) en is betrokke by die produksie van ander kunstenaars se musiek en klanke.
Sy mees bekende werk, ironies genoeg, is die musiek vir ‘n Berocca TV-advertensie (die een waar ‘n man voor ‘n trein hardloop), wat wêreldwyd uitgesaai word, en die logo- en agtergrondmusiek vir die Kyknet -sepie Villa Rosa.
Paul het in 2004 ‘n volwaardige “platemaatskappy” gestig, One F Music, wat spesifiek toegespits is daarop om ondergrondse, meer gewaagde plaaslike musiek te dokumenteer en te bemark.
