Die Grensoorlog DVD is nou beskikbaar.
Home » Cat test 4

Episode 7: ‘N GEWAAGDE REDDINGSPOGING

admin 13 December 2009 Cat test 4 238 views No Comment

Die guerillabeweging FNLA kry bloedneus, en 26 Suid-Afrikaanse soldate raak gestrand by Ambrizete, baie ver van Namibië se grens en veiligheid. Die vloot tree toe tot die bosoorlog en gaan pik hulle op duisende kilometer noord van Kaapstad.

Flag of the FNLA
Image via Wikipedia

Program teks:

Episode 7: ‘N GEWAAGDE REDDINGSPOGING

Voorheen in Grensoorlog:

Constand Viljoen: … Savimbi vir ons gevra… help my om myself in suide te kan handhaaf, sodat as kom by die oplossing van ’n … regering van nasionale eenheid … ons in staat sal wees om deel te neem aan daardie. Holden Roberto het ons gevra … help ons asseblief in die noorde … en dit is op grond daarvan dat ons ’n plan saamgestel het en aan die regering voorgelê het en die regering het dit goedgekeur …

TITEL: ‘N GEWAAGDE REDDINGSPOGING

V/O: November 1975.

Drie faksies veg om beheer van die nuut-onafhanklike Angola: die FNLA in die noorde, die MPLA in die sentrale deel rondom Luanda, en UNITA in die suide en ooste.

Die MPLA word ondersteun deur die Sowjet-Unie en Kuba.

Suid-Afrika, met medewerking van die CIA, ondersteun die FNLA en UNITA.

In die suide van die land is ’n opmars onder Suid-Afrikaanse aanvoerders besig om die gebied vir UNITA te herower.

In die noorde vra Holden Roberto van die FNLA spesifieke hulp.

Hy het een groot ideaal: hy wil die hoofstad Luanda verower voor onafhanklikheidsdag, die 11de November 1975.

Constand Viljoen: … ok, toe sê hulle vir ons hulle wil kanonne by ons hê … toe meet ek die afstand … en die pad wat van Ambriz af gaan, loop … aan die regter kant is daar ’n see-vlakte en aan die linkerkant is daar ’n moeras-vlakte wat deur ’n rivier veroorsaak word en dié ding is 10 km breed … en as hulle van Ambriz af Angola wou aangeval het … uh … Luanda wou aangeval het, dan moes hulle 10 km deurgegaan het met Luanda wat op hoëgrond aan die ander kant sit … hulle sou hulle vlinters geskiet het … en … uhh … ek het toe vir mnr PW Botha gesê ek dink nie ons moet dit doen nie, want die aanval wat hy wil doen kan nie werk nie, dit sal nie ’n sukses wees nie en dis ’n probleem. En mnr Botha het my toe uitgevra en gesê, maar hoekom? Toe sê ek vir hom maar kyk, ons 25 ponders skiet maar net omtrent 10 km ver … en … m.a.w. jy sal omtrent in die moeras moet ontplooi om te kan jou bomme gooi op … op Luanda. … en so het ek aangegaan en toe sê mnr Botha vir my, maar generaal, het julle dan nie ’n beter kanon wat verder kan skiet nie? Toe sê ek, ja mnr Botha, ons het 5.5 duim kanonne, die 140mm … hy kan verder skiet, maar die kanon is swaar en om hom hiervandaan af te vervoer na Ambriz toe is moeilik, maar hy sal … hy sal die teiken kan bykom. En toe sê mnr Botha, maar hoekom kan jy hom nie vervoer nie? Toe sê ek, maar mnr Botha, hy’s te swaar vir ons C130’s. Toe sê hy, generaal … en dis belangrik … hy sê as Afrika ons vra vir hulp, dan moet ons hulle probeer help. Hy sê en as … gaan nou … en as jy die 140mm, die 5.5 kanonne nie daar kan kry geheel nie, dan haal jy hulle uitmekaar uit en jy laai hulle in die vliegtuie en jy vat hulle soontoe en jy sit hulle weer daar aanmekaar, maar ons kan nie vir Afrika teleur stel as hulle vra vir hulp nie. Dit was ’n Vrydagmiddag … jy sal my nie glo nie … Saterdagmore tienuur is twee C130’s weg met twee 140mm kanonne en ammunisie oppad Ambriz toe …

V/O: Brigadier Ben de Wet Roos was die hoof van die span wat die SAW gestuur het. Hy was van meet af bekommerd oor die vermoë van die FNLA om die aanval suksesvol uit te voer. Maar Holden Roberto wou nie van sy plan afsien nie. Dit was nie in sy aard nie, soos wat brigadier Roos geweet het.

Jannie Geldenhuys: … hy’t gesê dat ’n mens kan nie eers ’n Land Rover daar vat om êrens heen te gaan, voor jy nie eers Holden Roberto se toestemming kry nie. En hy sê hy’t toe ’n gesprek gehad met Holden en vir hom gesê … luister … kyk … in oorlog werk dit min-of-meer so … dit werk in ander besighede ook so … jy moet darem jou … soort van … jou operasionele doelwitte identifiseer en dan soort van ’n besluit kan maak oor hoe daai doelwitte nou bereik kan word en dan moet jy nou maar opersionele orders gee om dit nou te bereik … en jy moet ook dan nou delegeer in hierdie proses … toe sê hy toe hy nou klaar is, toe sê Holden vir hom … dis waar wat jy sê maar jy weet, oorlog is so belangrike ding, jy kan dit nie vir die generaals los nie!

V/O: Teen Roos en Viljoen se advies in, word die aanval oor die oop vlakte beplan.

Teen dagbreek op die oggend van die negende November begin Suid-Afrikaanse kanonne vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog weer in alle erns vuur. Hulle moet dekking gee vir die FNLA-troepe.

Constand Viljoen: … ses-uur die oggend was die kanon reg … en dit is nou vier kanonne … … hulle skiet omtrent so … hon … so, amper 30km ver … so …toe begin die kanonne skiet …

Constand Viljoen: … die idee is om die aanval in te voer so vinning as moontlik, sodat … as die bomme nog ontplof en mense ander kant koes en bang wees … dan moet die mense deur beweeg … ander woorde, ons gee dekking. Ons verseker ’n veilige oorgang oor hierdie vlakte van 10km vir Holden Roberto se aanvallende magte. Die kanonne het geskiet en geskiet en geskiet … en die magte kom nie uit van Holden Roberto nie. En toe hulle uiteindelik uitvind wat … Ben Roos-hulle uitvind wat aangaan, toe sê hulle nee, maar hulle eet nog ontbyt. Toe is die kanonne se ammunisie opgeskiet … maar hulle is toe inderhaas … probeer die vlakte oorsteek en hulle het uitstekend gevorder … tot hulle baie naby was aan die ander kant … … hulle feitlik deur gewees … toe die kanonne nie meer kon skiet nie, toe het die vuurpylrigters aan die ander kant met hulle Rooi Oë beginne skiet en hulle het daai klomp aanvallende troepe uitmekaar geskiet …

V/O: Van die FNLA bly niks oor nie.

Die agt-kilometer opgeboude pad deur die moeras na Luanda raak bekend as “die pad van die dood”, met dosyne gesneuwelde en gewonde soldate verstrooi oor die verrinneweerde oppervlakte en die slote aan weerskante.

Jannie Geldenhuys: … hy’t toe hardkoppig uitgegaan, hy’t toe op sy … het ’n bloedneus gekry … en dit was omtrent die einde gewees van die FNLA … daarna het jy eintlik nooit weer van hulle gehoor nie, hulle het net van die toneel verdwyn.

V/O: Na die rampspoedige aanval van die oggend van 9 November, beveel Ben Roos die Suid-Afrikaanse soldate om terug te val.

Vir Constand Viljoen, wat in Pretoria gespanne luister na elke radioberig, is dit ’n senutergende paar uur.

Constand Viljoen: … en ons was natuurlik baie senuwee-agtig op daai stadium, dat die MPLA ’n teenaanval sou loods en dat hulle dan hierdie verwarde, uitmekaar-geskiete klomp FNLA troepe sou kon verower het met ons twee kanonne saam en met Ben Roos en sy mense saam met hom … … nou ek is ’n artilleris … en my kanonne is vir my kosbaar, ek gee nie kanonne af as dit nie absoluut kan nie. En ons het ’n reëling gehad met daardie kanonnne … dat ná die aanval sou hulle na die hawe Zaïre toe geneem word … dis noord van Ambriz, ag seker so … miskien ’n honderd kilometer noord van Ambriz …

V/O: Dit is gedoen. Die SAS Tafelberg het later die kanonne daar afgehaal en in Walvisbaai aan wal gesit.

Ben Roos en sy 26 man is nou ’n groter probleem.

Hulle vind hul pad te midde van honderde vlugtelinge terug na Ambriz, en daar sit hulle gestrand.

Lugontrekking is buite die kwessie – die aanloopbaan op Ambriz is verwoes.

Plan B was dat die CIA hulp sou verleen, maar die Amerikaners verdwyn tussen 24 en 26 November, sonder om te groet.

Dit is onmoontlik om oorland by die SAW-magte in die suide aan te sluit.

Die Suid-Afrikaners staan meteens net so oorgelewer aan die noodlot as die Portugese vlugtelinge wat skarrel om pad te gee uit ’n brandende Angola.

Daar is geen twyfel dat Roos en sy makkers spoedig onder geweldige druk sou wees nie.

’n Gewaagde plan word beraam om die vloot te stuur om die manne te gaan haal, duisende kilometers ver van die basis by Simonstad.

In Suid-Afrika is die publiek salig onbewus van die drama wat hier in die vreemde afspeel.

Nuusberigte van dié tyd word gedomineer deur die val van Saigon en die Amerikaanse onttrekking uit Vietnam. Angola sou baie maklik as Suid-Afrika se Vietnam gesien kon word … iets wat die owerhede ten alle koste wou vermy.

Daarom hang ’n gordyn van geheimhouding oor Suid-Afrikaanse betrokkenheid.

Selfs binne die weermag weet baie min mense dat van hul kollegas twee duisend kilometer noord van Kaapstad bedrywig is.

Op 3 November ontvang Admiraal Chris Bennett in Simonstad ’n hoogs-geheime seinberig.

Chris Bennett: … I had gone home after the working day and it must have been at about six o’clock that evening when the cripto office at Silvermine phoned me to say they had a top secret operation’s immediate signal … exclusive for my boss, who was commodore Gert Brits at the time …

V/O: Silwermyn was die operasionele hoofkwartier van die vloot.

Dit was lank voor selfone en Gert Brits was in die fliek. Die bestuurder van die inry het ’n boodskap op die skerm geflits om hom te vra om sy kantoor te bel.

Intussen het Chris Bennet die geheime sein gelees.

Dit het baie min besonderhede verskaf:

“SA Army personnel involved in ops in Angola.

Might be necessary to evacuate them by sea.

Fire support from sea probably needed.”

En dan die tweede paragraaf:

“One frigate to come to 12 hours notice for sea from 04 1800 Bravo Nov75 until further notice.”

Chris Bennett: … uhh … was a bit vague, it basically said that there was a thing … such a thing as Ops Savanna happening and that we were to have a ship brought 12 hours notice to participate in this operation.

V/O: Chris Bennet neem die inisiatief en waarsku die kaptein van die President Kruger om gereed te maak om te vertrek.

Intussen word die geheime sein ook aan die hoofde van die vloot en die lugmag en ander senior offisiere oorgedra waar hulle ’n funksie op Ysterplaat bywoon.

Chris Bennett: … so admiral Johnston said he had no idea what Ops Savannah was, so they went and found general Bob Rogers, who was the chief of the Air Force, and said … and Flam Johnston said to Bob Rogers … what is Operation Savannah? And apparantly Bob Rogers then said … if you don’t know what Ops Savannah is, I can’t tell you what Ops Savannah is, I’m not authorised. So Flam Johnson flew a bit of a wobbler and decided that if no one was prepared to tell him what the operation was, he was not prepared to let the ships go and participate in the operation.

V/O: Maar ’n bevel is ’n bevel.

Flam Johnson moes maar net weer afkoel, terwyl die President Kruger se stoomketels vinnig moes warm word – makliker gesê as gedaan.

Chris Bennett: … President Kruger was lying in Simonstown but both her boilers were open for what we call an external boiler clean.

V/O: Die bemanning word opgekommandeer. 36 uur later, op 5 November, seil die President Kruger langs die kus op vir die eerste vlootpatrollie van die oorlog.

Die SAS Tafelberg word voorberei as aanvullingskip en volg vyf dae later.

Die President Kruger se susterskip, die SAS President Steyn, was intussen besig met voorbereiding vir ’n beplande diplomatieke besoek aan Reunion.

Met hulle vertrek ontvang die skip ’n vreemde opdrag.

André Rudman: … kort nadat ons uit Simonstad vertrek het, het ons ’n seinberig ontvang wat sê moenie verder gaan as Kaap Agulhas nie … en wag vir verdere bevele. En ons het toe gaan anker in Gansbaai … en die kaptein het toe vir my gesê wat … wat gaan ons nou doen? Toe sê ek Kaptein, ek dink ons moet ons bote … bootwerk oefen …

Rowan Erleigh: … once we realized that we were no longer going on a diplomatic mission … that our purpose for going to sea was a lot more important … then things became quite serious in terms of … did we have the right equipment … were we trained for what it was we were going to be doing.

V/O: Wat hulle veronderstel sou wees om te doen, het niemand geweet nie, maar André Rudman het tog sekere vermoedens gehad. ’n Vriend van hom het by die lugmag in Pretoria gewerk.

André Rudman: … en hy het vir my vertel dat daar militêre operasies aan die gang was, hy sê hy weet nie presies wat aan die gang is nie, maar die vliegtuie vlieg knaend na die grens toe en hy dink daar is iets groots aan die gang.

V/O: Hy was reg.

Operasie Savannah in suid- en sentraal-Angola het berus op ’n lugbrug wat oor ’n tydperk van ongeveer ses maande minstens 6 500 ton vrag en sowat 5 300 passasiers na en van die operasionele gebied vervoer het.

Meer as 4 000 vlugtelinge is deur die lugmag na Suid-Afrika gebring.

André Rudman: … selfs die hoof van die vloot het nie geweet nie, dit was so hoogs geheim geklassifiseer dat selfs die hoof van die vloot nie geweet het ons is in ’n oorlog betrokke nie …

V/O: Op dié stadium is die FNLA se aanslag op Luanda lank reeds verby, en sit Ben Roos en sy span gestrand by Ambriz, baie ver van Namibië se grens en veiligheid.

Die vyand beweeg meedoënloos nader.

Die tyd om die operasie uit te voer, tik verby.

Die president Kruger het sy patrollie voltooi en teruggekeer na Simonstad.

Die president Steyn lê voor anker in Gansbaai.

André Rudman: … en toe ontvang ons die seinberig om te sê ons moet Kaapstad toe gaan … en toe besef ek … hier is nou iets aan die gang.

V/O: Chris Bennett gaan in Kaapstad aan boord.

André Rudman: … en hy het operasie orders saamgebring wat hy … hulle vir die kaptein gegee het om eers oop te maak nadat hy weer gevaar het …

Rowan Erleigh: … and that was for us the most difficult part because nobody knew …

V/O: Maar toe die kaptein die orders oopmaak, is dit baie duidelik.

Voer ’n klandestiene patrollie langs die Angolese kus uit.

Staan gereed om SAW-lede op te pik indien nodig.

Indien benodig, verskaf vloot-ondersteuningsvuur aan SAW-magte aan wal.

V/O: Die klem op geheimhouding laat ’n vloottradisie sneuwel.

Alle herkenbare tekens moet verwyder word.

Dit beteken die groot wimpelnommer aan die sy van die skip, die springbok op die skoorsteenpyp en die geelkoper letters op die naamplaat.

Slegs ’n klein, verweerde storm-vaandel mag gehys word.

Dit sou geen skeepskenner flous nie. Al die presidentklas-vaartuie van die vloot was aangepas om die klein Westland Wasp helikopter te dra, wat hulle ’n unieke vorm gegee het.

Nogtans word alle kentekens verwyder, insluitend die springbok op die skoorsteen – ’n tradisie uit die Tweede Wêreldoorlog.

Suid-Afrikaners wat saam met die geallieerdes geveg het, was bekend as ‘Springbokke’, waarskynlik omdat ons sportmanne destyds almal so genoem is.

Teen die einde van die oorlog het die Suid-Afrikaanse vloot begin om die springbok-embleem op skoorsteenpype te plaas om hulle te onderskei van al die ander vaartuie wat die Britse Koninklike vaandel gedra het.

Terwyl die skoorsteen-springbokkie letterlik uitgesterf het, vorm ’n ander vloottradisie ’n integrale deel van die reddingspoging: die jaarlikse roeiregatta. Die wenspan se boot se naam was “Superduck”. Dit word die naam van die operasie.

Die President Steyn ontmoet die SAS Tafelberg noord van Walvisbaai om voorrade en brandstof aan te vul. Te midde van streng radiostilte mis hulle mekaar amper, maar dan gaan die operasie voort.

Chris Bennet: … that night of the 27 … 28 of November 1975, was probably a night few of us will forget … of those of us who were involved … it was a very small team who were involved , who were in the know … at maritime headquarters … we knew the President Steyn was going in, knew it was extremely difficult, we knew the President Steyn would not contact us except in an emergency … we were then … or on completion of the operation … we were therefore very concerned about the whole thing …

V/O: ’n Plek moet gekies word vir die oppik-operasie.

Ambriz is te gevaarlik, want dit sal die skip binne bereik van vliegtuie uit Luanda bring.

Roos en sy manne moet verder noord na Ambrizete, ’n vissersdorpie sowat 70 kilometer van Ambriz af.

André Rudman: … die oggend moes ons hulle oppik want hulle het gesukkel om by die plek uit te kom … die pad was baie swak gewees en op die ou end het ons uiteindelik die bote kon lanseer maar om die plek te vind was reeds ’n probleem … die vuurtorings was verdoof, daar was geen ligte aan wal wat ons kon help met navigasie nie … toe het ons ook gesien die voertuig-ligte wat hulle … die leërmanne vir ons aangeskakel het om te wys waar hulle is … toe kon ons die bote instuur …

Rowan Erleigh: … the questions that went through our mind … is who were we going to meet? Were we going to meet with opposition? They were unknowns and they remained unknown until we eventually got to the beach … and as we got closer we could pick out quite clearly that there were several people on the beach … we anticipated that … we could pick up the outline of trucks in the the lights that were switched on, and eventually we made it ashore. Now imagine this … three navy DSB’s arriving ashore not knowing who to expect, and we ourselves were dressed in our diving suits, we’d blackened our faces, we weren’t sure whether we’d be speaking to our own people, somebody else, maybe speak a foreign language … and you arrive, and you meet people you have known, and all you want to do is have a beer …

V/O: Maar daar’s nie tyd vir lag en kuier nie.

Die dagbreek kom nader, en die kanonniers het ’n vrag toerusting wat ook moet huistoe.

Die matrose radio die skip om die motorboot en die helikopter te stuur.

Ure en ure se oefening lewer nou ’n dividend.

Bote en helikopter beweeg gedissiplineerd heen en weer.

Die helikopter word gehelp om in die donker op onbekende terrein te land.

Mense en toerusting word veilig aan boord die President Steyn gebring.

Rowan Erleigh: … by the time we were ready with our last lot it was already getting light and there was concern because we didn’t want to hang around too long … not knowing who might be waiting over the horizon …

Chris Bennett: … the instruction to the President Steyn has been that they had to go at best speed, directly away from the coast and were not recommence signalling until they were 100 nautical miles off the coast. So, that would have taken four hours … five 5 hours …

André Rudman: … en daar vandaan af het ons volspoed gestoom weg van die kus af en toe het ons die leërmense … die span … in Walvisbaai afgelaai …

Chris Bennett: … there was to be one … to be a short signal … the intention was that if it was a succesfull operation, they would send one word: SUPER. If the operation was unsuccesfull, they would send one word: DUCK.

V/O: Die sein het só gelees: Order to proceed with OPPIK will be initiated by unclassified signal including the word SUPERDUCK, followed by a classified signal, using the format laid down for OPPIK signals in SATAC 881.

André Rudman: … ons moes toe ’n seinberig maak om te sê dat ons die mense opgepik het … en die seinberig was: SUPER-SUCCESFULL-DUCK …

Chris Bennett: … SUPER-SUCCESFULL-DUCK … we went into panic stations cause now we did’nt know what the hell they were trying to tell us … we assumed they meant it had been a partially succesfull operation … we informed Defence Headquarters that this was our impression … Defence Headquarters said that this was not good enough, we want to know NOW exactly what has happened … the army can never wait …

André Rudman: … maar die hele operasie was toe ’n groot sukses gewees en soos brigadier Roos gesê het, met baie boeregeluk, het ons dit reggekry …

Chris Bennet: … at last, the night is over and we’ve … we’ve … you know … there’s been no … we haven’t left one of our ships as a permanent navigation marker off the Angolan coast …

V/O: Die Suid-Afrikaanse Vloot sou deur die loop van die oorlog weer aangewend word. Duikbote het by talle geleenthede operateurs van die Spesiale Magte langs die Oos- en Weskus van Suider-Afrika na hul teikengebied vervoer en onttrek. Net soos by Ambrizette sou al hierdie operasies onder die dekmantel van geheimhouding uit die publieke oog gehou word. Baie min mense het geweet van die vloot se bydrae gedurende die oorlog.

Reblog this post [with Zemanta]

Have your say!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>