Episode 6: BRUG 14
‘n Onskuldige term soos “skoonmaak” spook vandag nog by sekere soldate. In hierdie episode bou ingenieurs ‘n brug onder hewige vuur, en honderde sterf naby Ebo, Angola.
Vir ‘n Google Earth kaart van die Brug 14 slagveld sien hierdie keyhole download. Dankie aan die Google Earth Community webwerf.
Program teks:
Episode 6: BRUG 14
Voorheen in Grensoorlog:
Herman van Niekerk: … en toe het hulle begin om ons met BM21s te skiet … en hulle het twee banke … ’n bank is … wat … 40 vuurpyle … het hulle op ons stellings afgeskiet …nou in daai proses, toe skiet hulle omtrent my hele mortier peleton dood en hulle wis omtrent Stasie se mortier peleton uit.
George Kruys: …nou staan ons langs mekaar in twee pantserkarre … en die skrapnel gaan so wrr-wrr-wrr hier verby ons koppe …
Herman van Niekerk: …Maar ek het niks oorgekom nie en drie van my mortier peleton se troepe het niks oorgekom nie so ons gaan aan …
TITEL: BRUG 14
V/O: November 1975.
Na meer as 3000 km in skaars ’n maand, word die Suid-Afrikaans-geleide opmars na die noorde gestuit deur vol riviere in die Angolese reënseisoen.
Hulle probeer ’n paar keer om by die dorpie Ebo deur te kom, maar ’n onverwags sterk bewapende vyand met Kubaanse steun dryf hulle terug na Cela, waar die vernietigde Brug 14 hulle pad versper.
Versterkings word ingebring, onder andere ’n artilleriegroep vanuit die Caprivi onder luitenant Johan Potgieter.
Johan Potgieter: … ’n vreeslike snaakse teleks gekry, uiters-uiters geheim, wat sê ons moet … so vinnig as … ons moet binne 24-uur aanmeld by Grootfontein … ons gaan as artilleriste aangewend word in ’n baie geheime operasie …
Constand Viljoen: … logisties met Savannah het ons aanvanklik natuurlik ’n groot probleem gehad … as gevolg van geheimhouding was ons opdrag dat nie-gemerkte Suid-Afrikaanse uitrusting daar moet saam gaan nie … want as die goed daar sou opgetel word, of sou gesien word, dan sou dit natuurlik die poging om UNITA te ondersteun … of FNLA te ondersteun, negeer…
Johan Potgieter: …ons is toe in ’n groot hanger bymekaar gebring … van die teen-intelligensie mense het ons soos vlieë beplak … ons moes ’n snaakse kontrak teken … ons het net geweet hier is ’n groot avontuur wat voorlê. Ons het die kontrak geteken, ons dogtags en Afrikaanse Bybels ingedien, die Nugget van ons … die Macleans van ons toiletware afgekrap, want ons was nie veronderstel om Suid-Afrikaners te wees nie. Ons het die snaakste groen uniforms gehad met … uhh … snaakse tekkies wat nie vir almal gepas het nie. Kommandant Joffel van der Westhuizen was in bevel van die kollonne …ons is vroeg November is ons in die nag skelm uit Suidwes-Afrika uit en ons het die grens oorgesteek sonder dat die pers dit opgetel het.
V/O: Die politici probeer nog steeds geheimhouding handhaaf.
Terwyl Suid-Afrikaners net gerugte van oorlog hoor, lóóp die storie in die res van die wêreld.
Pik Botha: … ek was in 1975 ambassadeur by die VVO en in Amerika … ek het die twee poste … ek het twee ambassadeursposte terselfdertyd beklee. En dit was vir my van daardie kant amper ongelooflik … toe, toe … ek by geleentheid op Amerikaanse televisie ons troepe sien baklei in Angola … en, en … toe ek die departement hier nader … my departement … toe sê die departement, nee daar is ’n media … daar’s ’n media-deksel … dit is belet … die media mag nie rapporteer oor ons troepebewegings in 1975 in Angola nie. ……maar ek sien intussen, en die Amerikaners sien, presies wat gebeur … en hoe ons troepe een dorp na die ander eenvoudig inneem tot hulle amper op die drumpel van Luanda kom.
Joffel van der Westhuizen: … ons is wel in met van ons voertuie, maar die R-nommers is afgehaal. Ons moes als wat ’n beduidenis kon hê op RSA-vervaardiging … RSA … selfs op ’n tandepastabuisie afhaal …en soortvan in cognito ingaan in die oorlog ……Ons het gereeld ingeluister op buitelandse radios … en daar het ons gehoor ja, maar ons is nie daar nie … nie amptelik nie, maar de facto, is ons.
V/O: Hulle is inderdaad meer as 700 kilometer noord van die grens, en al hoe meer troepe en toerusting is aan die invloei.
Johan Potgieter en sy manne sluit onder bevel van kommandant Van der Westhuizen by die res van die taakmag aan by Cela.
Dit maak ’n groot verskil aan die vuisvoos veterane van Ebo.
George Kruys: … kommandant Joffel van der Westhuizen het aangekom … ’n baie vaardige artilleris … tegnies ontsettend vaardig … ek dink hy’t op daai stadium aangekom met twee 55we, die eerste twee 140mm kanonne wat opgedaag het …
Herman van Niekerk: … en daar het nuwe mense by ons aangesluit. Nog Suid-Afrikaanse soldate … en met uniforms. Ons het nie uniforms gehad op daai stadium nie, ons het sulke groen goed gedra, wanneer jy het. Ander kere het jy sommer net gedra wat jy het … jy weet, net iets. En … maar hier kom Suid-Afrikaners toe aan en hulle het in der waarheid bruin uniforms aan … so dit lyk my op daai stadium is die koeël toe deur die kerk, half-en-half, wat geheimhouding aanbetref en daar mag openlik nou bruin uniforms gedra word en kanonne en sulke tipe van wapens … beter wapentuig as wat ons gehad het.
V/O: Almal besef dat intense gevegte voorlê.
Johan Potgieter: … van Cela af is daar so ’n 10 kilometer vlakte na die bergreeks en jy kon … in die bergreeks en agter … kon jy die ontploffings hoor van mortiere en kanonne wat skiet en masjiengewere. Toe weet ons, daar is ’n geveg, en ons moet daar in en ons moet ’n verskil gaan maak met ons kanonne. Dis nie’n vrees nie, want ons het … ons was gewoond aan oorlog
Joffel van der Westhuizen: … ek was 33 jaar oud gewees op daardie stadium en was bevelvoerder 14 Veldregiment, ’n artillerie-eenheid op Potchefstroom … ja, jy moet verstaan, ons was jonk gewees … ons was in daai stadium amper oor-opgelei vir oorlog en alle fasette van oorlog … ek het jare se kursusse agter die blad gehad toe ek 33 jaar oud was … en vir my … dit klink miskien vandag nie baie polities korrek nie, maar dit was ’n groot avontuur vir ons gewees. Ons kon nie wag om daar te kom nie … ons kon nie … ons wou nie terug kom nie …
V/O: Maar onder sy bevel is bloedjong dienspligtiges.
Joffel van der Westhuizen: … agtien of negentien jaar … net na matriek … ek dink ’n 20-jarige ouman was al harde-baard gewees in daardie stadium onder die nasionale dienspligtiges. Want jy sal onthou dit was twee innames per jaar in Desember of in Januarie en Julie, met twee jaar diensplig. 14 Veldregiment het in daardie stadium ’n Julie-inname gehad, so daardie nasionale dienspligtiges het van Julie, tot kom ons sê einde Oktober opleiding gehad. Hulle het basies net basiese opleiding gedoen. Hulle het van kanonskiet en loopgrawe en oorlog nog nie ’n benul gehad nie …
V/O: Hy het net respek vir die manier waarop die dienspligtiges hul rol as soldate vervul het.
Joffel van der Westhuizen: … jy moet besef dat ons was in vreemde uniforms gewees, vreemde wapens, lang baarde, min kos … ons het baie van die land af geleef. En in sulke omstandighede kan jy maklik dissipline kry wat… wat … vinnig en ernstig verswak … en ’n mens … ek het nooit so ’n probleem gehad nie … nooit ooit met die nasionale dienspligtiges nie.
ADVERTENSIES
V/O: Die infanterie, bestaande uit UNITA-soldate, se benadering was dikwels anders as dié van die Suid-Afrikaners.
Herman van Niekerk: … die UNITA troepe wat ons daai tyd moes oplei was maar skrikkerig gewees en wanneer daar groot ontploffings en sulke goed kry is dan het ons van tyd tot tyd gesukkel om hulle weer bymekaar te kry om aan te kon gaan met die opleiding.
Johan Potgieter: … die infanterie battaljon plus wat ons moes gehad het, was in die vorm van 2000 UNITA-soldate wat vryheidsvegters was, wat nie gewoond was aan konvensionele oorlog nie … hulle is guerillavegters, jy weet … guerillas … en hulle is bosvegters. En hulle was baie skrikkerig vir die kanonne … hulle het altyd agter die kanonne gestaan en hande klap as die kanonne skiet … en hulle het regtig nie vorentoe gegaan nie … so ons kon nie op hulle staatmaak om die konvensionele infanterie rol te doen om die doelwitte op te ruim nie …
V/O: Maar nou moet hulle eenvoudig almal gebruik wat hulle het.
Aan die oorkant van die rivier lê die vyand. Elke verkeerde beweging lei tot ’n vuurgeveg, soos toe twee pantserkarre verkeerd afdraai en deur ’n nek ry wat hulle in die oopte laat beland.
George Kruys: … dit was ’n sneller vir ’n groot artillerie geveg. En toe het ons nou geskiet en hulle het geskiet, maar die voordeel hiervan is dat ons het nou vir eerste keer gesien waar is hulle wapens. Ek onthou dit goed, want dit was ’n groot geveg … ons het mekaar … ’n groot artillerie geveg met alles wat ons gehad het … en natuurlik hierdie kommandant wat tegnies baie vermoë gehad het … en … een van dinge wat hy ook gedoen het, hy het artillerie baie ver voorentoe gestoot.
Joffel van der Westhuizen: … ons het in daai stadium redelike kanonne ontplooi gehad oor ’n breë front … en ek het toe ’n regimentshoofkwartier gevorm … ’n klein, mobiele regimentshoofkwartier…basies uit ’n Landrover uit bestaan … en bevel gevoer oor al die artillerie wat daar ontplooi was … ons het probeer deurkom noord van ’n plek met die naam van “Die Nek” … dis waar die teerpad so tussen twee koppies oor ’n bultjie gaan … dit is omtrent seker ’n agt, nege kilometer van Brug 14 … suid van Brug 14 … en ons het heelwat probeer om verby Die Nek te gaan …om om Die Nek se koppe te gaan, links en regs om … sulke steekproewe gemaak amper om te kyk of … maar elke keer is ons … is daar op ons gevuur … ek sal nie se ons is vasgepen nie, maar daar is redelike swaar vuur getrek … todat brigadier Swart besluit het ons sal ’n frontale aanval loods…om deur te gaan …die rivier se naam was die Nia rivier…dis waar Brug 14 is …
V/O: Johan Potgieter se groep kry opdrag om vorentoe te infiltreer sodat die Suid-Afrikaanse kanonne, met ’n korter reikafstand as die teenstanders s’n, die teiken kan bereik.
Joffel van der Westhuizen: … Brug 14 is voorafgegaan deur ’n hewige bombardement … ons artillerie meestal op hulle artillerie … hulle artillerie of langafstandgeskut … wat ons vanweë die gebrek aan afstand van ons kanonne…ons geskut ver voor moes ontplooi…so ons het artillerie ontplooi net duskant Die Nek … net om oor daai kruin te kon skiet. Sodat ons heelwat noord van Brug 14 kon bykom … 15 km noord van Die Nek … dis omtrent die afstand wat ons kon bykom…en ons het hulle artillerie, al daai geskut wat ek nou genoem het, gebombardeer …
Johan Potgieter: … ons kry toe ’n paar valskermtroepe, en deel ’n koffie met die troepe … wuif … daar stap ons. Voertuie kon nie inry nie, want daar’s teveel myne in die omgewing en ons moes instap en ons moes infiltreer rondom hierdie kop. Heelnag het dit gereën … op ’n stadium het ons amper gedink ons is verdwaal, maar ek kon nie my kaarte in nag oopmaak nie, dan’s dit papnat, so ons het die navigasieplan gevolg wat ons in die basis uitgestip het … en teen hierdie berg op van die noorde-kant af … twee tree op en dan gly jy vyf tree terug … ons hoor ook … ons het op ’n stadium die Faplas gehoor, die “squelch” van die radio en blikke en so-aan en toe het ons afgesak en verder noord opgegaan en van reg noord af, ons stelling beset. Met eerste lig was dit mistig, ons kon niks sien nie … nie eers vyftig meter voor ons nie. Dit het ons kans gegee om bietjie droog te word en die kaart te bestudeer. En by tien-uur, toe die mis trek … mis lig … toe sit ons so 500m bokant hierdie Brug 14 … en net aan die ander kant van hom, is daar ’n eerste verdedigingstelling, gebaseer op die brug … so ’n tradisionele ontplooiing van ’n kompanie, drie pelotons … en hier’s die eerste teiken vir ons op ’n skinkbord. Dit is wat ons wou gesien het. Die troepe in die verdedigingstelling was besig … sonder hemde rondgeloop … troepe is troepe is troepe, maak nie saak aan watter kant jy is nie … en op daai stadium was ons gereed met die kanonne … vyf skote doelvuur, op my bevel … en toe ek nou voel die tyd is nou reg, al troepe is nou ontbloot, gefokus op hierdie goed, hulle is uit loopgrawe uit, doen ons ons eerste … wel die kraaltjie en ander plek wat bestook het was nie so dramaties nie … maar hierdie was ’n baie goeie bestoking … en … uhh … al daai Caprivi-roes is af en die ouens was op teiken … en ons kon daai hele kompaniestelling en Lada kon ons vernietig. Daar was baie verliese.
V/O:By die brug aangekom, is daar onverwagte goeie nuus.
George Kruys: … ons beweeg nou af na rivier toe … en interessant genoeg daar kom toe ’n pelotonbevelvoerder van die Vrye Portugese … en die pelotonbevelvoerder rapporteer aan my “…ek het die brug gevat” … toe sê ek vir hom “bly daar” … toe ons nou so afbeweeg toe het hulle gesien maar daar’s niemand op brug nie en toe beweeg hulle af op die brug en toe sien hulle, maar hulle het hom eintlik …
V/O: Oor die volgende aantal dae moet die artillerie vir die geniekorps tyd maak om die allerbelangrike brug oor die rivier te bou, sodat die taakmag kan beweeg … noord, altyd noord.
Joffel van der Westhuizen: … die brug was redelik verniel gewees … en daar was twee brugbou-pogings gewees … of die brug is in twee fases gebou, dat ek dit so skets. Eers ’n tydelike brug, sodat ons kon oorkom en noord van die rivier … die Nia rivier … kon ontplooi. As ek reg onthou was dit net boomstompe gewees wat gelê is … sodat ons kon oorkom … die Nia rivier het taamlik sterk geloop, jy weet, dit het baie gereën, so jy kon nie net deur met ’n voertuig of met ’n kanon nie … jy het ’n brug nodig gehad.
ADVERTENSIES
Johan Potgieter: … nadat ons die mortiere stilgemaak het in hierdie hoofverdedigingstellings noord van die Brug 14 … kon die ingeneurs … die genie … onder leiding van Douw Steyn, kon toe nader kom en hulle kon toe met hulle trekkers die oewers voorberei, en hulle het bloekompale oor die brug gelê en brug gebou. Dis nie ’n konvensionele militêre brug nie … hulle het die goed en materiaal in die omgewing gekry. En hulle het dag en nag gewerk.
V/O: En die geveg woed voort van dag tot dag.
George Kruys: … kommandant Joffel van der Westhuizen en sy artillerie het toe uitgewerk dat … jy weet … sit twee kanonne hier op en een kanon daar op en inplaas van vuurtempo’s van ses per minuut of twee per minuut kon jy die mense vra om baie hoër vuurtempo’s te handhaaf …vir ’n kort tydperk. Nou … ek het toe die waardering gedoen en tot die gevolgtrekking gekom … ek gaan vinnig oor daai brug probeer kom en hewige ondersteuningsvuur gee.
Johan Potgieter: … kanonne het in daai stadium ’n gemiddeld van 500 skote per kanon per dag geskiet … die verf het van die lope afgesmelt.
V/O: Tussendeur word daar koorsagtig aan die brug gebou.
George Kruys: … die hele dag van die 9de het hulle gebou, en die 10de het hulle die oggend weer aangegaan en hier teen die middag … ek dink dit was omtrent 13h00 … toe het die vyand hewig op ons begin vuur en ook op daai stelling … op die brugbouery … ons het twee geniesoldate verloor wat doodgeskiet is. So, nou moes hulle eintlik terugstaan, jy kan nie bou terwyl hulle hierdie brug onder vuur neem nie. Op die 11de, toe begin die geveg vroeg. Ek dink die vyand het ons begin skiet so omtrent nege-uur. Omdat ons brug wou bou, het ons nie hierdie gevegte geïnisieer nie, ons wou eintlik stilte hê, sodat ons die brug kon bou. En dié geveg het aangehou van omtrent nege-uur tot 13h00 weer. En ná 13hoo het die brugbouery weer begin.
Johan Potgieter: … en dit het die reaksie uitgelok van die BM21s. Jy kan 40 vuurpyle in 21 … 23 sekondes kan jy hulle afvuur. Die aktiewe gedeelte, wanneer die vuurpyl brand, maak hy ’n rooi streep … jy sien dit kilometers ver. Daar vandaaraf, die term “Rooi Oog” … en, ag anders … hy’s ook verwys as die Stalin-orrel, omdat hy hierdie baie pype het. En ons kon weldrae met uitvaartshoek en die rigting wat hierdie Rooi Oë getrek het … kon ons vinnig bepaal het, so tot in ’n kilometer omgewing, waar gaan daardie vuurpyle val. En het ons dan hierdie BM21s geneutraliseer, net vir (onduidelik) sê of vir die HK of vir die eschelon … ons wa-lyne … of vir die kanonne, wat-ook-al … het ons gesê: “Gate toe!”. Dan weet hulle, hulle het so twintif, vyf-en-twintig sekondes vir die vlugtyd van die vuurpyle. Dan klim die ouens in die gate, sit, wag tot hierdie bombardement verby is … klim hulle uit en dan gaan aan. So, dit het ons nie werklik beïnvloed nie …
George Kruys: … en daar was ’n luitenant Fountain, wat ’n jong, jong luitenant was, wat die bevelvoerder was van hierdie troepe wat die brug gebou het. En ek sê toe vir hom “Luitenant, more-oggend moet ek oor hierdie brug kan ry. Jy moet hom vandag klaarmaak, al werk jy deur die nag.”
V/O: Die volgende oggend was die brug klaar.
George Kruys: … op my bevel, sou die pantser oor brug beweeg …die brug was onder vuur gebou, so al wat jy kon oorkry was, jy weet, klein voertuigies … die pan … die Elande kon oor, maar jy kon nie artillerie oorkry nie. Maar die pantser is toe deur, en wat toe gebeur het, toe die pantser oorgaan, toe … en jy weet, hulle ammunisie voetuie het opgeblaas en so-aan, jy kan jou indink wat dit aan hulle moreel gedoen het … toe begin hierdie FAPLA-infanterie, wat nou net soos ons infanterie opgelei is, begin toe hardloop. En ek het geweet dat die vyand het ’n missiel wat gelei is … ’n draad-geleide missiel … bekend as ’n “Sagger” … en, so, die man wat dit skiet, trek die sneller en dan moet hy hierdie ding nou beheer met ’n draad, tot op die teiken … dit vat nog ’n bietjie moed, want jy kan nou nie … it is not … dis nie skiet en los nie. Hulle het probeer om met die Saggers ons pantserkarre uit te skiet, maar die pantserkarre was ’n baie klein teiken, wat baie vinnig beweeg het op die teerpad en die draad het in die bosse vasgehaak. Toe het hierdie missiele so oor die bosse … en geval. En toe ons nou die stellings deurgaan na die tyd, toe kry ons al die drade vas in die bosse. So, hulle het hierdie skote geskiet en toe het hulle gehardloop. En toe het ons masjiengewere, jy weet, gemaai onder hulle … dis was eintlik tragies. En toe is dit … weg gehardloop en ek dink, ag teen 12-uur was hierdie geveg eintlik al klaar, ons het skoongemaak tot in diepte en ons het uitgebuit en alles gedoen wat jou boek vir jou sê.
V/O: Skoonmaak.
’n Skynbaar onskuldige term wat in hierdie verband iets heel anders beteken het.
Johan Potgieter: … die UNITAS wat daar was, het net belang gestel in die horlosies en die stewels en die uniforms en die lyke en dit gelos. En die bevelvoerder het besluit ons moet die doelwit opruim … ons moet die uitrusting bymekaar maak, die gewondes moet versien word en die wat dood is moet begrawe word. Die ingenieurs … die genie, het met ’n trekker het ’n sloot gemaak en ons het 360 lyke bymekaar gemaak op die doelwitte wat nie ’n aangename oefening was nie. Artillerie, anders as patrone … uhm … die projektiele kanonne, verskeur vleis en dit was brutaal. En, ek kry die troepe tot vandag toe jammer wat dit moes gedoen het. Want, na daardie geveg het ons vorentoe beweeg en ontplooi in die doelwit, waar die dood vir week al hang, en dis onmenslik, ondraaglik en dit het die troepe regtig laat swaarkry en laat knak. En, ek kon hulle nie help nie, ek het nie geweet wat om te doen nie … al wat ek net geweet het, ons moet daar uit en by ’n ander plek ontplooi en ons het dit weldrae gedoen en in ’n skoon gebied gaan ontplooi, maar die skade is gedoen …
OC Joffel van der Westhuyizen: … daar was mense wat baie moeilik met die terugkom aangepas het…en nou moet ek sê, omdat ons nie daai tyd bewus was dat dit ’n probleem kon wees nie, het ons nooit sielkundige hulp gekry vir die mense nie. Agterna dink jy aan goed wat jy gesien het … wat gebeur het … en dit ontstig jou …ek dink dit ontstig ook die mense naby aan jou…
Johan Potgieter: … ek sou nie sê hoe dit vandag realiseer nie … die … praat met die vrouens wat slaap saam met hierdie kanonniere … die pyn is daar, hulle steek dit weg, maar dit is die brutaalste vorm van oorlog …is om die wat die skade aangerig het … om dit te gaan opruim …
[gaping]
Joffel van der Westhuizen: … vir ons was Brug 14 net nog ’n dag. Ek het eers na die tyd, na … ag … miskien maande nadat ons terug was uit Angola uit, begin besef dat Brug 14 was iets gewees wat merkwaardig was.
Joffel van der Westhuizen: … ek dink my … die observasiepos, luitenante, diensplig luitenante, die troep bevelvoerders, die battery bevelvoerders, dis mense wat voor die infanterie ontplooi en beweeg het, in die nag beweeg het, vroeg oggend … sonder beskerming verkenning gaan doen het … vir my is hulle almal helde …
V/O: Omtrent 6 km anderkant die brug het die taakmag hul weer in ‘n mynveld vasgeloop. Die aanmars is weer eens gestuit. George Kruys is dae later afgelos en het teruggekom Suid-Afrika toe. Min het die troepe in die veld geweet dat die politici reeds besig was om te praat oor onttrekking.
Joffel van der Westhuizen: Hoofdoel was om aanmars voort te sit. In daai stadium geen inklinasie om terug te trek nie – sterk op pad vorentoe. Nie vaagste benul dat terugtrekorder gaan kom, ons hoef maar net hierso te halt en te begin regmaak om terug te trek nie.

![Reblog this post [with Zemanta]](http://img.zemanta.com/reblog_b.png?x-id=87742637-43cd-4b07-9dc1-9cae1eae8ffe)
Have your say!