Episode 3: SPESIALE MAGTE, SPESIALE TAKE
‘n Onkonvensionele oorlog vereis ‘n onkonvensionele reaksie. Teenoor die guerilla-aanslag, stig die SAW ‘n eiesoortige teenvoeter. Ons skets ‘n portret van die elite soldate wat bekend geword het as die “recces”. Die stigter van hierdie eenhede, Jan Breytenbach, en tien ander wat nooit oor hulle werk diep in vyandelike gebied kon praat nie, vertel.
Program teks:
Episode 3: SPESIALE MAGTE SPESIALE TAKE
V/O: Voorheen in Grensoorlog:
Charles Namoloh: … they were very patient, very patient …
Gennady Dunaev: … Discipline was immense, I should say …
Charles Namoloh: also the discipline was there … because we were now being prepared as future leaders …
Gennady Dunaev: … and I would say, I would say that these are the people on whom you may rely. I’m talking militarily…
Charles Namoloh: … we were really trained as guerilla detachment commanders …
TITEL: SPESIALE MAGTE SPESIALE TAKE
Constand Viljoen: … daar is ’n belangrike kuns in hierdie tipe van oorlogvoering en dit is spoorsny en oorgrensoperasies … as daar nou ’n patrollie inkom van Swapo … wat in die Suide kom skade aanrig, dan is dit gewoonlik dat ’n mens hoor van hulle … of jy kry die skade wat gedoen is en dan kry jy die spore by die gebied en dan moet daai spore opgevolg word en jy moet daai mense tot verantwoording kan roep – en om dit te kan doen is die gewone opleiding van die gebiedsmagte nie voldoende nie en moes ons toe die speseenhede soos byvoorbeeld die spoorsny en opvolg moes ons skep en spesiale opleiding gee om hierdie te kan uitvoer.
V/O: “ … what a hellavua way to die … ” Vir die Spesiale Magte operateur was dit ’n gegewe dat hy bereid moes wees om hoë risiko’s te aanvaar.
Die gelukkiges wat deur die oorlog gekom het, kan vandag terugkyk op ’n lewenspad vol kinkels, waar hulle telkens die dood in die gesig gestaar het.
Jack Greeff: … wat jy in Spesmagte ondervind, daar is geen plek op aarde in siviele lewe waar jy dieselfde ding kan ondervind nie.
Wynand du Toit: … ons word betaal om goed te doen waarvoor ander ouens betaal om te doen.
Jack Greeff: … ’n ou se lewe daarna dan, is ietwat van ’n antiklimaks …
Callie Roos: … vir my was die wese van dit maar … ’n ou is ’n professionele soldaat.
Willy Ward: … nooit in my lewe, het ek in ’n kroeg gestaan of op enige plek gestaan en geroem oor mense wat ek dood geskiet het nie.
Callie Roos: … as ek nou die spesmagte ervaring moet definieër is dit eintlik maar net dat jy dit beter doen.
Chris Greyling:
Callie Roos: … wat ek voor gekies het was om net wat ek doen so goed as moontlik te doen en om dit professioneel te doen.
Jack Greeff: … ja, ek sal my lewe net so oorhê …
V/O: Die tyd het diep spore op Jack se gesig getrap. Maar na drie dekades is die gesindheid presies dieselfde: ’n aggressief-positiewe benadering wat spesiale magte operateurs reg oor die wêreld kenmerk.
Spesiale magte is so oud soos die geskiedenis van oorlogvoering. In ’n oorlog van aanval en verdediging, ’n oorlog van konvensie of ’n ongereëlde oorlog, vervul spesiale magte altyd ’n belangrike rol. Vloeibaar, veelsydig, formidabel – gehaat deur baie.
’n Ongewone soldaat wat ongewone take op ongewone plekke kon uitvoer.
Jack Greeff: … daar is sekere niks meer agressief op hierdie aarde as tien of twaalf of vyftien spesiale magte soldate wat se wapens reg is op vuur – gereed is om te vuur, wat weet hier kan moeilikheid kom – hulle is op pad in daai rigting, die ou wat dan ’n skoot aftrek in die rigting van daai groep het moeilikheid … en die het ek met my eie oë gesien ’n paar keer.
V/O: Die Suid-Afrikaanse verkenningskommandos, of recce’s, het die benadering van die Britse Special Air Service – SAS – gevolg: werk in klein spanne, meestal diep in vyandelik gebied, versamel strategiese inligting of vernietig teikens.
Geruisloos, effektief.
Daar is net een kans.
Jy moet dit die eerste keer reg doen.
Kloppies Kloppers: …waar die taak nou ookal gewees het dan het ons die vermoë gehad om dit te bereik, hetsy per lug, per see of per grond dan!
Jack Greeff: … meeste van operasies was buitelands.
Kloppies Kloppers: … ons was tot op die bottom gewees!
V/O: Spesiale magte het oor ’n groot verskeidenheid uitrusting beskik wat doelgerig aangewend is vir elke spesifieke taak. Lank voor operasies is besluit wat benodig sou word en is daar geoefen en ge-eksperimenteer met verskillende voorrade. Na operasies, is intense nabetragting gehou waarin die gehalte en bruikbaarheid van toerusting gedurig bevraagteken is. Sodoende het net die beste wapens die paal gehaal.
Van die modernste en mees gesofistikeerde wapens en toerusting van die Suid-Afrikaanse wapenvervaardigingsindustrie kon dus onder uiterste toestande getoets word deur die weermag se top soldate.
Kloppies Kloppers: … harde tye, harde manne …
Wynand du Toit: … swaarkry, sweet, min eet, hongerkry …
Kloppies Kloppers: Orders …
Wynand du Toit: Seelug …
Kloppies Kloppers: wapens, ammunisie …
Chris Greyling:
V/O: Tydens die Koue Oorlog het die oseane om suider-Afrika ’n integrale deel gevorm van die area van konflik. Die seeroete om die Kaap was deurslaggewend vir westerse belange in die suidelike halfrond. Die Simonstad Ooreenkoms van 1955 het die taak om die seeroete te beskerm van Brittanje na die Suid-Afrikaanse Vloot oorgedra.
Die Vloot het gevolglik al hoe meer uitgebreide patrollies langs die kuslyne van stapel gestuur.
Suid-Afrika wou ook ’n wakende oog hou oor die visvoorraad wat blootgestel was aan eksploitasie deur ander internasionale moonthede.
Maar die broeiende stryd in Namibie en Angola het tot gevolg gehad dat die kuslyn ook ’n faktor sou word ten opsigte van operasionele behoeftes.
Alle spesiale magte operateurs het dus gevorderde duikopleiding ontvang.
Deur die loop van vyandelikhede oor talle jare is verskeie geheime operasies aan die wes- en ooskus van suider-Afrika gedoen.
Die verkenners en die vloot het gou in ’n gedugte span ontwikkel.
Elke recce het ook ‘n kenner op die gebied van vuurwapens geword en het eie voorkeure ontwikkel.
Piet (Vaatjie) van Zyl: … jy kon basies jou wapen gekies het, maar meeeste het maar die AK gevat, want … AK, jy kan hom deur die modder sleep, jy kan hom in die water sit, as jy daai wapen wil skiet, dan skiet hy, dis bitter min dat jy ’n AK gekry het wat stoornis gegee het.
Piet (Vaatjie) van Zyl: … jy het ’n mes by jou gehad en dan het jy ook ’n pistool, dit was maar jou hoofwapens, jou AK en jou pistool wat jy by jou gehad het.
Kloppies Kloppers: … goed waarvan enige jong ou van droom!
V/O: Avontuur was die droom van elke voornemende recce.
Maar agter elke nuwe avontuur was ’n operasionele logika, en elkeen onthou ’n ander detail van hierdie dae …
Kloppies Kloppers: … die gefluit van Puma helikopter se blades, die gedreun van ’n Dak voor ’n mens daar spring. Ja, dit laat mens se hare weer regop staan.
V/O: Reeds teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog word die waarde van die goed opgeleide soldaat wat per lug afgelewer word, onder militêre taktiese denkers bespreek.
Tydens Hitler se Blitzkrieg in Europa aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, is die valskermsoldaat in minstens een moderne mag reeds doktrine.
Die valskermsoldaat word die verpersoonliking van die super-infanteris wat voor of agter vyandelike linies ’n slag moes slaan.
Die konsep word spoedig deur militêre strateë een stap verder gevoer – spesiale magte vir spesiale take.
Vir Suid-Afrikaners het die super-soldaat sinoniem geword met die recce’s. Hulle was vrywilligers, wat in die spervuur WOU staan.
V/O: Dit is die prototipiese beroepsoldaat – Jan Breytenbach – wat die Suid-Afrikaanse recce model ontwikkel het.
Jan Breytenbach: … ek het toe SAS-keuringskursusse gaan doen in Rhodesië, saam met Sea Squadron Second SAS …
V/O: Die Suid-Afrikaanse model was geskoei op die Britse SAS-opleiding en die aanwending daarvan in Indo-China.
Jan Breytenbach het na sy aanvanklike opleiding in die SAW eers ’n draai in die Britse weermag gemaak en deelgeneem aan optrede tydens die Suez-krisis in Egipte.
Hy het in 1961 teruggekom en in Suid-Afrika ’n valskermsoldaat geword.
Jan Breytenbach: … toe ek in die valskermbataljon was, het ek gesien ons sukkel om die valskermbatlajon vol te kry met troepe en dit was ’n redelike taai kursu wat jy moet deurgaan en mense is gekeur, kyk ’n valskemrbataljon is maar net ’n infanteriebatalajon wat kan spring met valskerms … toe het ek het vir my bevelvoerder ’n skrif voorgelê dat ons moet oorslaan na SAS, dat ons optree in klein groepies agter vyandelike lyne/linies . Net klein 5 man spanne en jy konsentreer op sabotasie en daai tipe van ding … en dan mettertyd kan jy ook gebruik word om guerilla-magte op te lei agter vyandelike lyne.
V/O: Jare lank rig Breytenbach vertoë vir die stigting van Suid-Afrika se eie spesmagte aan top generaals.
In 1972 sou hierdie droom waar word.
OC Constand: … ek self was betrokke by die goedkeuring daarvan, maar dis ook goedgekeur, soos enige ander eenheid wat gestig word, deur die minister van Verdediging. Ons het dit goedgekeur, oor die bekamping van hierdie tipe oorlogvoering, baie afhanklik was van inligting – en die verkry van inligting.
Jan Breytenbach: … toe roep hulle my in en sê jy gaan die SAS spesiale magte eenheid stig.
Jack Greeff: … ons keuring was baie streng, baie streng, en die ou wat hier wou kom en Rambo speel, het nie geslaag nie, en daar was nie ’n manier wat hy ooit sou nie, so daar het ’n paar goeie Amerikaners of twee deurgekom, in die eenheid gedien, selfs ’n Engelsman of twee en destyds toe die Rhodesiese weermag ontbind het die hele SAS van Rhodesie het omtrent ’n regiment geword in SA.
V/O: Suid-Afrika het natuurlik ’n veel ouer voorbeeld van die “recce’s” gehad, naamlik die verkenningskommando’s gestig tydens die Anglo-boere oorlog.
Dié is begin deur Danie Theron en Jack Hindon.
Die verkenningskommando’s was die oë en ore van die Boereoffisiere!
Generaal Jan Smuts verklaar volgens geskiedskrywers: “die goeie verkenner is nie die een wat met die eerste aanblik van die vyand laer toe jaag om dit aan die offisiere te rapporteer nie, maar die een wat bereid is om onder groot gevaar so na as moontlik aan die vyand te kom om betroubare inligting in te win … dus ’n verkennerskorps met ’n vegvermoë, reg in die tradisie van hedendaagse spesiale magte.
Die boere-verkenners was “avontuurlustige jong burgers” en die Bosoorlog recce was ook dikwels na dié elite eenheid gelok deur die belofte van avontuur.
Callie Roos: … dit was deel van my vormingsjare, ek was jonk en dit was lekker, want daars altyd adventure, nuwe horisonne.
V/O: Die verkenners tree onafhanklik van gewone kommando’s op, maar baie word as “spesiale-take verkenners” saam met operasionele kommando’s ontplooi.
Meer as ses dekades later sou Breytenbach se recce’s ook nie verbind word aan die Suid-Afrkaanse Leër, Vloot of Lugmag nie.
Hulle word direk deur die Hoof van die SAW en die minister van Verdediging aangewend – vir “spesiale klandestiene take”.
Die kontroversiële aard van hierdie operasies hou altyd politieke risiko’s in.
Jack Greeff: … in spes magte het ek dit baie duideliker gesien waar die politici die hele situasie beheer het. Dit was vir baie frustrerend. Jy berei voor, sielkundig en fisies, berei voor vir die operasie veral as dit ’n hoë risiko op is waar jy weet jy gaan die vyand baie hard slaan, jy berei daarvoor voor, intens, jy begin jouself inleef in die ding in, en dan wag jy. Want Pik Botha sê nee of dié ou sê ja of iets in daai lyn. Dan is die ergste as die hele ding afgestel word a.g.v. politieke besluite – as die politici sê hulle sien nie kans vir die ding nie – dit is baie frustrereend.
V/O: Sabotasie aksies was die Boere-verkenners se kos.
Dié opgeblaaste brug dui op nog raakpunte met die aksies van die Bosoorlog recce.
Die doelwit was nooit om kontak met die vyand te maak in ’n tradisionele vuurgeveg nie. Die taak was sabotasie, die opblaas van brue, vernietiging van logistieke lyne en die insameling van inligting.
Kloppies Kloppers: … ons het kontak vermy – jy was oppad met plofstof na ’n spoorlyn toe. En jy wou die spoorlyn gaan opblaas het, dit is jou primêre doel en dit gaan afhang ook dan van die taak hoeveel mense jy is, onthou jy kan nie 2 mense ontplooi en 80 kg springstof daar kry nie, jy moet nog jou water en jou kos en ammo ook dra.
VO: Die hulp van begaafde wetenskaplikes en plofstofkenners soos Vernon Joynt, is dikwels ingeroep.
Joynt en sy span, destyds bekend as “Die McGyvers”, het naam gemaak met die ontwikkeling van mynbestande voertuie wat vandag weer in Irak en Afganistan gebruik word.
OC: Vernon: … wanneer ons spesmagte gegaan het om goed aan te val of soos wanneer ons UNITA opgelei het … ons het aanvraag gekry om spesiale soort van take te doen, soos met spesmagte moes ons ’n tonnel opblaas in Angola … en hoe breek jy ’n tonnel? Jy weet, ’n tonnel deur ’n berg. Nou die manne van 1 Recce daar onder in Durban het na AECI toe gegaan wat die skietwerk en die springstof verskaf vir mense wat spoorweg tonnels in berge inskiet en hulle het daai experte, daai kommersiële experte gevra …
VO: Die regte hoeveelheid plofstof moes op die regte tyd en plek gekry word.
Sou ’n Puma die lading daar kon kry? en hoeveel ton plofstof sou vir die taak nodig wees?
Vernon Joynt: … en die antwoord was 22 ton. Nou ’n Pumatjie kan nie 22 ton dra nie en toe kom hulle weer na ons toe want ons kry al die snaakse goed want hulle weet ons dink snaaks, jy verstaan. Toe word daar vir my gese hierdie Puma kan ’n ton dra en sien jy daai berg, hy het ’n 80m tonnel in hom. Jy moet daai tonnel op daai spoorlyn laat val met ’n ton en die boys sê vir ons dat dit kan nie gedoen word nie. Toe sê ons, OK, ons gaan probeer…
VO: Vir Vernon en sy kundiges het ’n paar nagte se deurwerk voorgelê. Gou-gou is die optelsomme gemaak.
Vernon Joynt: … nou die job was toe later gedoen, ons het die hele 80m van daai berg op daai ding laat val, maar ons het snaakse metodes gebruik, ons het ’n trollie gemaak wat die ton kon teen die dak druk en ons het ’n ¾ ton teen die dag gedruk en ¼ ton gevat en buitekant teen die berg opgeklim en op ’n sekere manier op die klippe die goed gesit sodat wanneer die slag af gaan dan gaan die skokgolwe teen mekaar en dan skud hy daai hele berg los en dan sak die hele berg inmekaar. Dan kan jy nie weer ’n tonnel grou nie want daar is nie klip nie. So toe het ons hulle gekeer dat hulle nie met hulle tenks daar kon deur kom om gevegte daar onder in die suide plaas te vind nie. Deur met 2 Pumas in te vlieg en deur die nag so ’n tonnel op te blaas nie. Dit is die soort van werk wat ons vir die verkennings komando gedoen het. Die brue wat ons geblaas het met duikers moes ons spesiale ladings maak en onderwater goed. Ons het van “waterspouts” gebruik gemaak om die goed te skiet sodat ons met duikers die brue kan uitskiet. Dit het ons weer baie geleer oor hoe werk klein ladings met groot teikens.
V/O: Vir die Boereoorlog-verkenner was motivering tot optrede die verwerping van die Rooinekke, oftewel die Engelse koloniale oorheersing.
In die era van operateurs soos Kloppies en Jack, was die vyand steeds rooi gekleur – die kleur van Sowjet wêreld-oorheersing.
En bloed sou vloei in die ideologiese stryd wat saam met “Uhuru” in Afrika ontplooi het.
Vir die Spesiale Magte operateur was die doelwit glashelder.
Kloppies Kloppers: … jy weet, ons is daai tyd het die bevelvoerders en daai tipe vir jou gesê: “ Manne julle is hier vir ’n buffer teen die kommunis en teen die anti-chris, as SWA val, dan is hulle teen SA.
Magnus Malan: …we are obviously concerned about Soviet expansionism and penetration in our region, the vacuum left by colonial powers in Africa, was exploited by the Soviets.
Willy Ward: … ek was teen kommunisme gewees, ek het altyd vir myself gesê, ek sal vir my land veg, ek sal vir my land veg, maak nie saak wie aan bewind was nie, behalwe as daar ’n kommunis aan bewind was, as daar ’n kommunis aan bewind was, dan het ek ’n vryheidsvegter geword.
Kloppies Kloppers: … die woord kommunis was die mees gehate mens op aarde. Dit was die abolute anti-Chris. Dit het my geïnspireer en gemotiveer om te veg vir my land om dit te beskerm.
V/O: Dis in hierdie tyd wat woorde soos “Rooi Gevaar” deel word van wit Suid-Afrikaners se woordeskat. Enige iemand wat die vyand teen Suid-Afrika kon opkommandeer, was die teiken.
Die geskiedenis sou later wys dat die Sowjet-Unie se Spetsnaz-eenhede nooit in Angola of die noorde van Namibië ontplooi is nie.
Sowjet adviseurs en militêre spesialiste was daar wel.
Callie Roos: … in my tyd was dit die tyd wat hierdie goed oor ons pad gekom het op daai manier en dit was, dis nie my kinders se tyd nie, my kinders leef nou in ’n ander tyd.
V/O: SWAPO se verkenners het gewerk onder die vaandel van die Typhoon Unit – ’n groep uitsoek-vegters van die People’s Liberation Army of Namibia of PLAN.
Vanuit Angola het hulle diep-infiltrasietogte in Ovamboland – en verder – onderneem, gemik op die insameling van inligting oor die magsterkte en bewegings van hulle opponente en moontlike teikens in die landbou gebiede suid van die rooi-lyn.
Een van die mense wat ’n sentrale rol in die stigting van die Typhoon Unit vervul het, was Charles Namoloh Namoloh.
Die meeste mense het hom onder sy skuilnaam geken.
Jan Breytenbachnie: …because he is known in Namibia, in southern Africa, in Africa, internationally as Ho Chi Minh, and how did that happen, can you tell us more about that?
Charles Namoloh: … ja, it is a good question, I happen to read the autobiography of Hoh Chi Minh, a very simple man, very small, very honest and I felt, he was very humble, not selfish, dedicated to his people, very small people, fighting the big power – and I felt that Hoh Chi Minh will be a good combat name for myself, we are small people, we must be honest and we are fighting a big power, so I chose Ho Chi Minh, just to have that courage and determination of the Vietnamese people …
V/O: Swapo se spesiale magte eenheid, aanvanklik bekend as Volcano, is om en by 1978 in die lewe geroep.
Die naam is later verander na die Typhoon Unit.
Charles Namoloh Namolo was instrumenteel in die inisiëring en opleiding van hierdie spesiale soldate …
Charles Namoloh: … I was given the task to prepare and train them and then send them in the country. It was towards the end of ’78 we started to train them from December to middel of February and then they were ready to go into … we drew all the basic characters for all the fronts and brought them together and then we trained them and the special tactics also. To deal with the … so they can operate in very small groups but very effectively and they were sent especially only for the farming areas in the south to penetrate the south.
Kloppies Kloppers: … ek het nooit gedink aan sy gedeelte nie en ek dink net hy sou nooit dink dat hierdie wit ou het ook kinders en ’n vrou by die huis nie.
Willy Ward: … en ek dink aan die vyand se kant is daar mense wat ook goeie pelle verloor het.
Kloppies Kloppers: … dit het nooit by my opgekom dat ek moet jammer voel vir hom nie, huh nee.
Jack Greeff: … daai tyd het ons geveg omdat ons geglo het daarin, hulle het geveg omdat hulle geglo het daarin, hulle was bereid om dood te gaan daarvoor, en ons was bereid om dood te gaan vir wat ons in geglo het …

![Reblog this post [with Zemanta]](http://img.zemanta.com/reblog_b.png?x-id=9e6fe93e-1d9e-41cc-a9cd-b86df7f36021)
Hello! Please e-mail me your contacts. I have a question webmaster@bravto.ru” rel=”nofollow”>……
Thank you!!!…
11 June 2010 at 2:57 am