Die Grensoorlog DVD is nou beskikbaar.
Home » Cat test 6

Episode 12: Ons sal lewe ons sal sterwe

admin 13 December 2009 Cat test 6 970 views No Comment

‘n Ma verloor ‘n seun. Een van soveel moeders, een van soveel seuns. Hy was ‘n parabat, wat die gesogte valskermvlerkies met diepe trots verower het. Ons hoor die verhaal by sy ma, en by die soldaat in wie se arms hy gesterf het.

Die episode is op die eerste Grensoorlog DVD stel.

Program teks:

Episode 12 : ONS SAL LEWE ONS SAL STERWE
Voorheen in Grensoorlog:

V/O: Vanaf 1 Januarie 1968 was alle mans vanaf 18 jaar oud verplig om militêre diens te doen … eers 9 maande lank … later 12 maande … en nog later 2 jaar … met daaropvolgende kampe. Weiering om diensplig te doen, het ses jaar tronkstraf beteken, maar baie min wit seuns het geweier.

Vlag en Die Stem …

TITEL: ONS SAL LEWE ONS SAL STERWE

Eben Venter: … wel ek het dit beskou as ’n plig wat ’n ou moet doen. Daar was ’n probleem in ons land en ons moes dit aanspreek en ons was deel daarvan. Dit was ’n opoffering, maar ek het dit ook gesien as ’n uitdaging.

Constand Viljoen: … 18 is jonk, maar nie te jonk vir ’n soldaat nie … war is a young man’s game … en dan’s hy fiks, hy’t nog nie die ernstige verpligtinge van ’n familie en so aan, tuis nie … hy het sy lewe voor … en dis die ideale tyd vir hom om as hy iets moet doen om dit op daai basis te doen …

Jannie Geldenhuys: … as jy iemand aanmoedig om diensplig te doen, help dit nie om met hom te praat nie. As sy meisie of sy vrou vir hom sê hy moet gaan, dan het hy nie probleme nie. As sy ma vir hom sê hy moet gaan het hy nie probleme nie …

V/O: Een so ’n ma was Bettie de Lange.

Bettie de Lange: … meeste van ons kennise het seuns gehad wat grens toe gegaan het. Dit was ’n algemene praktyk daai tyd … dit was nie vir ons dat jy jou seun terug gehou het … behalwe die wat nou eers universiteid toe wou gaan, nê? … maar meeste van ons ouers, en ons was een van hulle wat … uhmm … vier seuns gehad het wat militêre opleiding gekry het … dit het hulle goed gedoen, hulle het basiese opleiding gekry.

V/O: Die De Lange-seuns het baie meer as net basiese opleiding gekry. Al vier van hulle het grensdiens gedoen. Hulle was versprei tussen verskillende eenhede en basisse. Op sommige van die grensbasisse is die troepe toegelaat om van ’n tiekkieboks af te bel, maar dit was ’n rare voorreg. Die meeste families het geleef vir briewe.

Bettie de Lange: … ek was altyd opgewonde as ’n brief kom, dan sit ons almal dit saam en lees, en bespreek dit … my oudste seun is baie tegnies en hy het in die tegniese dienskorps in gegaan en hy het hier vir LLW gewerk.

V/O: [gedeelte van brief word gelees] Hallo ma, ek skryf net ’n kort briefie om dankie te sê vir die pakkie … en dat ek dit baie waardeer … dit was eintlik ’n groot verrassing omrede karen alreeds enetjie gestuur het … en ek nie kon dink dat sy weer een sou stuur nie … sê vir ouma ek sê dankie vir die briefie en wens haar ’n voorspoedige nuwejaar toe …

Bettie de Lange: … die tweede seun was nou weer geïnteresseerd in intelligensie en hy het in die intelligensiediens ingegaan en selfs skool gehou daar op Omega, vir die Boesmankinders … … en dan Gerhard … nou … het belang gestel om ’n valskermbatteljon te word … hy het nou meer in daai aktiewe lewe belang gestel …

V/O: Toe Gerhard vir sy meisie sê dat hy by die parabats gaan aansluit, het sy ma besef dat dit hom direk in die gevaar sou inlei.

Bettie de Lange: … hy was op Kimberley gewees en hy bel haar die aand en hy sê … ek is vannaand … is ek op Johannesburg se lughawe, ag Johannesburg se stasie, ek gaan Bloemfontein toe, ek gaan opgelei word as ’n valskermsoldaat. Toe het ek vir my man gesê ons moet dadelik na die stasie toe gaan en met die kind gaan praat. Want ek het geweet, omdat ek nou by die museum werk, dat valskermsoldate is in gevaarlike posisies. En ons het met die kind gaan praat en vir hom gesê … jong … besef jy wat jy doen? Toe sê jy … staan hy so eenkant … en hy staan so regop en hy sê … ja ma, iemand moet dit doen.

V/O: Die sogenaamde parabats het baie van die jong manne getrek. Die eenheid het in skaars 20 jaar ‘n reputasie gebou dat net die bestes dit sou haal – en baie wou probeer. Die eerste 50 Suid-Afrikaanse valkermsoldate is in die Tweede Wêreldoorlog deur die Britse weermag opgelei, maar dit was eers in 1961 dat 15 vrywilligers, ook in Engeland opgelei, as 1 Valskermbataljon by Tempe buite Bloemfontein gevestig is. Kort daarna is die eerste plaaslike rekrute ingeneem. Dit was van hulle wat in 1966 betrokke was by die eerste botsing van die oorlog, net suid van die Angolagrens.

Daan Beneke: rooi fakkel … sirkel … mense afgelaai … eerste lugstormoperasie sedert Korea deur SA weermag uitgevoer.

V/O: Vroeg in die sewentigerjare is die valskermmag uitgebrei na drie bataljons. Lede van al drie is dwarsdeur die oorlog wyd aangewend, dikwels as ’n snel-reaksiemag of “fire force”, geleer uit teen-insurgensie optrede in Rhodesië. Hulle het in Angola opgetree, maar ook in Namibië self, waar die valskermtroepe saam met ander eenhede veggroepe gevorm het om SWAPO-infiltrasie teen te werk. Dan het hulle werk gewone spoorsny, aanval en opvolg behels, onder kodename soos Veggroep Phantom.

Elkeen van hulle was ’n vrywilliger, en die beroemde maroon beret is nie maklik toegeken nie. Eers moes hulle ’n streng fiksheidstoets slaag en ’n reeks sielkundige toetse ondergaan. Dié wat die paal gehaal het, soos Gerhard de Lange, is oorgeplaas na Tempe vir ’n drie maande kursus.

By Tempe het Gerhard vir Eben Venter ontmoet. Soos talle ander het Eben sy oproepinstruksies ontvang toe hy 17 jaar oud was. Vir hom was daar nie twyfel nie … hy wou gaan veg vir sy land… en hy het ook die keuring geslaag om ’n parabat te word.

Eben Venter: … ek het die trein hier in Pretoria gevang … Bloemfontein toe; dit is bietjie scary as jy nou weggaan van die huis af en jy weet nie wat om te verwag nie … in die verte in maar, dis maar … ja.

ADVERTENSIES

V/O: Eben onthou vir Gerhard baie goed.

Eben Venter: Jis, hy was ’n stouter hoor, hy’t baie kanse gevat …

V/O: Saam is Gerhard en Eben deur fiksheidsopleiding wat gaandeweg al hoe harder geword het.

Eben Venter: Een dag gehardloop… … Gerhard by bungalow in, onder bed gelê en slaap, uiteindelik net weer aangesluit, gemaak of ook moeg.

V/O: Die finale twee weke het bestaan uit sewe ure se uithou-oefening elke dag. Groepe van 12 man het 16 kilometer gehardloop met teerpale of ander swaar gewigte bo hulle koppe – om maar een voorbeeld te noem. Teen die tyd dat opleiding vir valskermspronge begin het, het 50% van die rekrute reeds uitgeval.

Die nuwe fase het begin met twee weke onder dak. Nou gaan dit oor land-en-rol, harnasopleiding, vliegtuig-en-valskerm. Oefenspronge uit die ‘Aapkas’ is die voorspel tot die werklikheid. Dis eers na agt suksesvolle spronge, waaronder twee in die nag en vier met volledige toerusting, dat hulle kwalifiseer as ‘parabats’. Minder as 30% van die oorspronklike inname ontvang uiteindelik die gesogte valskermvlerkies.

As valskermsoldate, was dit amper vanselfsprekend dat Eben en Gerhard sou grensdiens doen – soos wat Gerhard se ma geweet het.

Bettie de Lange: … so vir ons in die tuisfront was dit nie ’n probleem dat die seuns gegaan het en gaan diens doen het nie.

V/O: Die enigste vrees in ’n ouerhart was dat ’n kontak met die vyand kon skeefloop … maar hulle het vertrou dat die opleiding goed was en dat hul kinders in die hande van militêre kundiges was.

Constand Viljoen: … dit het vreeslik baie van hulle gerusgestel dat ’n mens nie van hulle kinders verwag het om iets te doen wat jy nie bereid was om self te doen nie.

V/O: Patrollering van SWAPO-insypelingsroetes was ’n prioriteit … die basis van grensbeskerming.

Constand Viljoen:… dit is ongelukkig so dat die grootste gros van troepies kom en hy stap kilometers en kilometers op die wit sand … en hy raak moeg en hy’s honger, als en hy verlang … en naderhand is dit 40 dae en almal hou die 40 dae partytjie … en almal sit en wag dat die Flossie moet kom om hulle terug te vat Republiek toe …

V/O: Soos alle oorloë, het hierdie een ook bestaan uit lang rukke van dodelike verveling afgewissel met oomblikke van bloedstollende aksie, dapperheid en vrees.

Eben Venter: … ons was goed voorberei daarvoor, ja …fisies baie goed voorberei

V/O: Die valskermsoldate was miskien van die heel beste voorberei vir wat hulle kon inwag. Hulle was infanteriste wat per vliegtuig of helikopter op die slagveld afgelewer word. Die intensiteit van hulle opleiding het hulle in super-infanteriste omskep, so gereed as moontlik vir wat die oorlog ook mag inhou. Maar geen opleiding kon hulle voorberei op die werklikheid van kontak met die vyand nie.

Eben Venter: … ek dink emosioneel is mens op daai stadium baie naïef en jonk en ek dink daar’s nie veel wat mens kan voorberei emosioneel daarvoor nie …

…ek glo nie dit word waardeer wat die ouens daai tyd bereid was om te doen en wel gedoen het nie … daar is baie mense wat gewond terug gekom het en wat dood is in die proses.

V/O: Soos enige ander infanteriste, moes Eben en Gerhard se eenheid patrollie loop. Dit het dag-na-dag en nag-na-nag voortgeduur …

Bettie de Lange: … ek dink dit was omtrent so nege-uur die aand gewees wat hy gebel het. Hy’t gesê ma ons gaan nou uit en ons wil net sê ons is op patrolie … en … nou ja ons kon maar net sê, laat dit goed gaan my kind.

V/O: Bettie het ’n voorgevoel gehad dat haar seun getoets sou word.

Bettie de Lange: … en ek onthou maar die laaste pakkie wat ek aan hom gestuur het, het ek buite op die bruin papier ook nog geskryf … die binne omhulsel … pasop my kind – jou vyand is verraderlik …nou, ja …

Eben Venter: … ons was in ’n TB, ’n tydelike basis.

Bettie de Lange: … dit het … uhm … hulle was, soos ons verstaan het, het hulle op patrollie uit gegaan van Ondangwa af en op die grens het hulle, soos hulle sê, gaan skoonmaak en gaan kyk dat daar nie terroriste basisse is. En hulle was op die Sondag … was hulle spesifiek … wat hulle op gaan rus, dit was al hier in die aand se kant ses-uur wat hulle gaan rus het. En per toeval het ons daai aand na sy briewe wat ek in my handsak gehad het gesit en lees. En ook bespreek dat die kind skryf daar dat ons moet asseblief nou die woonstelletjie klaar bou, want hy kom nou want hy gaan volgende jaar gaan hy by RAU studeer. Hy wil prokureer word.

V/O: Duisende kilometers ver het Gerhard en sy makkers onder die sterre gereed gemaak vir die nag.

Eben Venter: … uhm … ons het daar ingegaan net so in skemertyd nou dit is in die veld wat jy so in ’n sirkel slaap … twee-twee bymekaar. En Gerhardt de Lange wat in my seksie was … hy het nie saam met my geslaap nie hy het in die groepie net langs my geslaap. En ek kan duidelik onthou daar het manne aangeloop gekom wat hard gepraat het in ’n swart taal … en hulle het nie geweet van ons nie … en Gerhardt het toe hulle by hom kom, want hy het langs die paadjie gelê, toe sê hy vir hulle: “Hei, wat maak julle daar!”

V/O: Die insypelaars het blitsvinnig gereageer, soos hulle opgelei was.

Eben Venter: … ja, hy pluk toe ’n grenaat uit en hy gooi dit na ons kant toe en dit het toe onder Gerardt se liggaam beland of onder sy lyf en hy is deur die lug geslinger … ’n paar meter en hy het op sy rug geland. Ons het dadelik na hom toe gegaan en hom probeer help … die medic het mond-tot-mond asemhaling gegee … toe ons hom omdraai dat ons sy rug te sien toe is sy rug vol gate soos die skrapnel hom getref het. Sy longe het omtrent onmiddelik vol bloed geloop en die mond-tot-mond asemhaling het nie gehelp nie …

Bettie de Lange: … en hy het in die arms van Eben Venter gesterf en ons het later van Eben gehoor hoe Gerhard gesterf het.

Eben Venter: … hy’s omtrent 30 sekondes na die ontploffing oorlede.

Bettie de Lange: … hy het geweet hy sterf en hy het net gebid en gesê “God wees my sondaar genadig” … en toe is die kind weg.

Eben Venter: … en dis al wat hy gesê het en kon sê … daarna het hy sy bewussyn verloor. So ek dink, ja, ek dink dit het besonderse betekenis, hoewel dit bly my by tot vandag toe.

Bettie de Lange: … ons het elkeen het ons geboortedatum en ons het ons sterfdatum en jy moet aanvaar dat dit was sy tyd gewees, ons het dit aanvaar. Dit voel of dit ontydig was, maar dit was sy sterfdatum … dat hy moes gaan

Eben Venter: … dit is baie traumaties, jy weet. Hierdie outjie, wat jy ken, hy’t langs my gelê, ek en hy het basies langs mekaar gelê … nou nie … omtrent twee meter van mekaar af en ek het niks oorgekom nie en hy het gesterf.

… drie dae na die tyd toe sê hulle vir ons ons moet terug gaan veld toe … ons moet verder gaan patrollie doen. Daar is glad nie emosioneel na die troepies gekyk nie. Ek kan onthou toe ek terugkom in die veld hoe bang was ek hoor … jê … ek kon nie slaap nie … ek kon nie slaap nie want jy dink net wat gebeur as dit weer gebeur, jy weet.

V/O: Terug by die huis moes ’n gesin leef met die verlies van ’n kind …

Bettie de Lange: … van die weermag se kant, hulle het ons kom besoek. Hulle het met ons kom praat, hulle het vir ons … hy is … die Maandag toe hulle nou vir ons kom vertel dat hy is oorlede … het hulle vir ons gesê “Kyk, die kind het seergekry, as ons vir julle sê moenie na hom kyk nie, moenie na hom kyk nie. En as ons nou vir julle sê sy liggaampie is nou hier, dan kan julle gaan. En dit was gelukkig so dat sy gesig nie baie geskend was nie, so ons kon hom gaan sien.

ADVERTENSIES

V/O: Ondersteuning het van oral gekom, van bekendes en onbekendes. Soveel ander ouers kon identifiseer met hulle pyn.

[Gedeelte van brief word gelees] Ons deel in u smart met u groot verlies … ons sal Gerhard as ’n dapper seun wat vir sy vaderland gesterf het onthou …

[Gedeelte van brief word gelees] Ons voel saam met u, want ons skoonseun het ook die 18de Desember 1983 die hoogste offer gemaak, vir God, sy geloof en land …

[Gedeelte van brief word gelees] You don’t know us, but we want you to know that we mourn with you over the tragic loss of your son …

[Gedeelte van brief word gelees] Your dear son, Gerhard Ernst, has now been called to higher duties, where with the dear lord Jesus and all the angels, he is clothed in white …

Eben Venter: … ek dink vir my ma-hulle was dit nogal erg. Hulle het geweet dit het gebeur en hulle het my probeer pols maar ek dink dit was bietjie moeilik om daaroor te praat. ’n Ou wil nie graag jouself ontbloot en ek dink ook om hulle te beskerm het ’n ou probeer om maar ’n front voor te hou, maar probeer tough lyk…

Eben Venter: … ek dink as hulle besef hoe gevaarlik dit is, of hoe gevaarlik dit was, dan sou hulle meer bekommerd gewees het want daai spesifieke nag het my ma my vertel het sy wakker geword en het sy spesifiek vir my gebid en dit het presies daai selfde tyd gebeur as wat die aanval op ons was.

Bettie de Lange: … ek dink dit was vir al die seuns … as jy kyk na die foto’s wat daar by sy begrafnis geneem is en jy kan sien die hartseer op die gesigte, dat dit vir hulle ’n skok was. Een van hulle eie jong vriende wat so gegaan het.

Eben Venter: … ek was kwaad. Ek was kwaad ja, definitief. Ek onthou ons het ’n patrollie gedoen daarna en ons het afgekom op ’n swartetjie … wat vir my verdag gelyk het en ek het daai outjie gegryp en ek wou hom voeter om inligtign uit hom te kry want ons het vermoed daar is SWAPO’s in die omgewing en as ek nou terug dink weet ek ek het nie reg opgetree teen ’n klein seuntjie nie en ek dink dis maar agv daai gebeurtenis dat ek so oor gereageer het en ek amper my frustrasie op hierdie jongseun uitgehaal het.

Bettie de Lange: … soos ek sê, dit het ’n geweldige indruk op ons as huisgesin gemaak en dit het ons baie nader aan mekaar gebring. En so ’n moeder moet los maak, sy moet besef dat sy gaan eendag haar kind weer sien …

Eben Venter: … Ek probeer sy lewe sien as hy nou nie sou sterf nie dan sou hy heel waarskynlik ‘n pa gewees het met ‘n vrou en kinders en ‘n goeie loopbaan. Hy was ‘n intelligente ou hy sou dit gemaak het. En nou’s hy weg. Daar’s niks van hom oor nie. Net herinneringe.

Eben Venter: … natuurlik is dit ’n skok, en selfs nog vandag, jy stap in die straat en jy sien ’n blonde seun en dan dink jy myne sou so gekyk het. So dit is hy’s nooit weg nie … hy is altyd daar …

Eben Venter: … ek het drie seuntjies, drie klein seuntjies, ek sal my hande af baklei dat hulle nie in ’n soortgelyke situasie beland nie. Ek dink dis belangrik om, om dit wat Die Stem daai tyd gesê het “… ek sal lewe, ek sal sterwe …” om dit uit te leef. Ek dink daar is ’n groter … ’n groter ideologie as net ’n mens self. Mens moet vir ons groep veg. Ons groep is nou die reënboognasie, dis nie meer net die Afrikaner nie, maar in so oorlog situasie soos wat ek was dink ek jy word gebruik en dit is nie tot die groep se voordeel noodwendig nie.

V/O: Dit is hoe Eben nou voel, maar wat was die oorwegings 23 jaar gelede?

Bettie de Lange: … as jy na hulle briewe luister, dan praat hulle van die “kommies”, die kommies wat ons mee ’n teenstand gaan hê. Maar dit was SWAPO gewees … veral op daai grens.

Eben Venter: … ek dink daar was definitief ’n rooi gevaar ek dink nie dis ’n storie nie. Ek beleef dit, dat dit … daar was rerig Russe gewees, daar was rerig Kubane en Oos-duitsers wat vir ons land ’n bedreiging ingehou het. Ons het die geveg weggehou van Suid-Afrika af, eerder op die Angola-grens as op die Namibië grens so ek voel nie dit was verniet nie. Daar was ’n doel daarmee. Maar om daar in daai loopgrawe te lê of in daai slote te lê en jou lewe op te offer … ek sien nie dat ek my seuns deur dit wil sit nie.

Have your say!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>